Wednesday 27 June 2012

Kapokkie


VLERKSLEEP
deur Salomie

Ek is,of was, bekend as iemand wat geen affiniteit vir hoenders het nie. Dit was totdat Kapokkie in ons lewe ingekom het. Ek gee beslis ook nie normaalweg vir hoenders of kapokhoenders name nie. Glo my, glad nie.
Maar die een moes 'n naam kry sodat ek op hom kon skree as dinge te erg raak. Hy reken hy is baas van die plaas. Van alles wat beweeg.
Totius en Van Gogh is die eerste dag met benoude miaau geluide die huis in. Die honde, Stoffel en Stompie, loop draaie en die neushoringvoël kom eet pap op die stoep as Kapokkie nie in die omtrek is nie. Dit is skreeusnaak om die grote Stoffel -wat hom met een hap kan opvreet - benoud te sien koes vir die geniepse skoppe en pikke.
Skaars geland toe is hy  klaar 'n groot meneer en die meneertjie besluit hy is my ridder op twee skurwe hakskene.  As ek buite loop en enige iemand waag dit naby my dan storm hy en skop of pik verwoed. Die ergste was toe hy die kar bestorm en die wiel skop dat die stof so trek.
Eintlik verskaf hy my ure se genot. Sy hart moet wees hoe 'n hart van staal lyk. 'n Leeuhart, die mannetjie. Ek gebruik hom as motivering; vertel vir die kinders dit is soos 'n mens die lewe moet aanpak. Moenie terugdeins. Dis die gesindheid wat saak maak.
Sy vroutjie loop kloekend saam en skrop-skrop fyntjies vir wurmpies en wat ook al hulle  met daardie skurwe toontjies los wikkel.
Ag mense, en toe raak hulle vryerig. Sy staan dromerig en hy loop om haar en sleep sy vlerke spoggerig in die grond langs haar dat die stof so trek. Eers dié kant toe. Dan draai hy om en sleep weer die ander vlerk net so spoggerig anderkant toe dat die korrels sand so wiplig.
As jy nog nie 'n geveerde man sien vlerksleep het nie, dan moet jy moeite doen om so iets te aanskou. Die kuns van hof maak in aksie, dit is wat dit is.
Die nasleep is eiertjies, natuurlik. Verspotte klein eiertjies as 'n mens aan hoendereiers gewoond is. Vroutjie kapokkie gaan sit kloekend om te broei en die twee mag nie uit die hok kom. Die hek word nie meer soggens oopgemaak nie. Dinge kan onveilig raak vir 'n broeiende hennetjie.
Kapokkie kraai die hele dag dat jy hom wie weet waar kan hoor. Die hele tyd kry ek hom bitter jammer oor die gevangenskap. Eindelik is die wag verby. Ma-kapokkie spog met ses klein kuikentjies. Twee swart en vier geel donsige bondeltjies trippel om haar voete.
Geen pa kan trotser wees as hierdie Kapokkie pa nie. Hy wil net help kinders grootmaak.
“Die baas van die plaas speel nou tweede viool,” sê ek al giggelend vir Manlief.
Hy kyk my vraend aan.
“Kapokkie het sy Moses teëgekom. Sy vrou is nou die baas,” vertel ek.
Wat hierdie parmantige mannetjie nie geweet het nie, is dat hy 'n baie kwaai vrou gekry het. Hy moet so mak soos 'n lammetjie eenkant toe staan. Sy pof haar op dat hy skoon klein lyk en dreig hom met allerhande hoendertaal dinge.
So beteuterd het ek Kapokkie nog nooit gesien. Saam met die glimlag moes ek hom jammer kry. Die waardige werfkoning wat nou so eenkant toe moet staan.
Donderdagnag hoor ons vir Kapokkie deur die slaapnewels kraai en lawaai sonder ophou. Die honde begin ook blaf. Manlief staan op en gryp die flits.
            “Nou het hy die hele wêreld wakker,” brom hy voor hy by die deur uit verdwyn.
            Manlief is net betyds om te sien hoe 'n rondloper hond probeer om 'n gat onderdeur die draad te grou. Kapokkie kraai nog eenstryk deur. Ma-kapokkie sit verskrik in die hoek met al die kuikens onder haar vlerk. Die honde staan en blaf verwoed, maar die rondloper skrik en verdwyn eers toe hy die mens en die lig gewaar.
Die volgende dag is dit al vir my of Ma-kapokkie so bietjie meer toegeeflik teenoor Kapokkie is. Ek kan sweer ek sien 'n vonkel in haar ogies as sy so na sy kant toe loer. 

No comments:

Post a Comment