Friday 11 April 2014

Genade


“Tanna, ons moet praat.”
Die woorde val soos klippe op Arista se hart. Magdelie se gunstelingfrase wanneer moeilikheid wit in die blom staan.
“Wat is fout,” kry sy tussen stywe lippe uit.
“Niks, my Tanna. Hoekom?” Magdelie klink heel kalm. Nie so passief gespanne soos destyds toe sy 'n tiener was nie.
“Praat met my,” sê Arista
“Ons praat vanaand, chiau,” sê sy voor sy aflui.
Arista het geweet dit sal haar inhaal. Eendag gaan daardie stukkende verdwaalde dogtertjie haar verskyning maak. Die bang seerkry ogies gaan terugkyk uit die spieël uit. Sy draai van die spieël afweg, storm blindelings by die agterdeur uit en vee trane met die agterkant van haar hand af. Terwyl die trane al vinniger loop, kies sy koers na die kliprandjie waar sy al haar seer gaan bêre.
“Ma, ek sukkel. Ek kom nie reg nie!” Sy skree dit uit. Nege maande, dit is hoe lank Ma dood is. Van sperm tot fetus totdat 'n baba gebore kan word. So lank sukkel sy nou al. Bloei sy by die gat waar haar hart seergekry het.
Moes Ma dan nou al doodgaan? Sy was tog nie so oud nie? Sy sak stadig op 'n warm gebakte klip neer en begin snikkend huil. Die seerste snikke sedert haar boet se dood.
Toe het sy ook so geween. Hoe verstaan enige mens selfmoord? Hoe verstaan jy dat hy geglo het hy was so alleen op aarde? Dat nie een van die wat hom lief gehad het hom kon help? Was hy so alleen in sy binneste?.
Nou is sy sommer weer by die seer van haar standerd ses jaar ook.
“Onthou Ma, my naaldwerk juffrou? Die kort enetjie in standerd ses? Sy het my sy nogal aan Ouma laat dink.” 'n Nuwe stortvloed van trane.”Totdat sy haar mond oopgemaak het. Dit was gewis my eerste kennismaking met snydende sarkasme”.
Snikke en luide neusblaas. “En my slegte naaldwerkpunte, Ma. Dit was daai simpel teddiebeer wat weggeraak met die trek. Ek het geweet daar was nie geld vir ander materiaal en simpel opstopsels nie. Sy het my doodeenvoudig 'n ronde nul gegee.”
Sy staan op van die klip af. Op vyftig sit 'n klip in die veld nie meer so lekker nie. Sy stap 'n entjie. Praat weer met haar ma.
“Dit was 'n bitter slegte jaar, Ma. Onthou Ma hoe ons moes aanpas as plaaskinders op die dorp. Ek wil nie daaraan dink. Ek het gesweer ek is klaar met daardie gevoel.”
Sy gaan sit weer, die keer op 'n skewe Kareestomp.
“Ek wou nooit weer soos die patrys tussen 'n klomp papegaaie                                                     voel nie.
En dit is presies hoe sy gevoel het toe hulle ontdek het sy kan nie kinders hê nie. Elke keer wanneer almal gekoer het oor hulle swangerskappe en babas, was sy weer die vaal patrysie.
Sy sak vooroor en rus haar kop op haar knieë. So sit sy en huil tot daar later net droë snikke by haar rou keel uitkom. Doodmoeg bly sy net so sit. Hoe nou vorentoe?
Sy moet vorentoe ter wille van Magdelie. Haar grootmaakkind. Die rebel de lux.
Bloed van haar bloed. Maar die Here alleen weet in haar hele samestelling is nie genoeg rebelsheid om te verstaan waar een gram van Magdelie se rebelsheid vandaan kom nie.
Sy het geglo dit gaan beter noudat die kind getroud is...
Rook op skool was slegs die tippie van die ysberg. Magdelie het alles probeer.
“Tanna kom haal my, ek is by die sokkie uitgegooi,”is woorde wat sy dikwels moes hoor. Dan moes sy rooigesig die hoof gaan aandurf.
“Tanna, ek staan op die hoek van die straat, kom haal my,” as sy dink Magdelie lê rustig en slaap. Philip het meer as een keer amper die kind te lyf gegaan as sy uitgeglip het na een of ander klub.
Hoe het hulle die kind groot gekry? Genade op genade. Slegs haar belofte aan haar oorlede suster het haar menige dae staande gehou.
Daar was selfs die steel episodes toe Magdelie voor die tronkdeure gaan draai het. Of dit haar 'n les geleer het, weet sy wat Arista is, nou nog nie. Vanoggend se oproep maak haar so bang, haar maag trek op een groot knop.
Dit is hoe Philip haar kry en saggies aan die skouer vat. Sy skrik geweldig groot en vir 'n oomblik weet sy nie of sy moet vlug of veg nie.
“Haai, wat is dit dan? Jy is so hartseer dat jy my nie eens hoor aankom nie,” vra hy sag.
“Ek...” sy sug diep en sidderend “Ek dink ons afvlerkvoëltjie is weer in die moeilikheid...”
Hy vou haar in sy arms toe en gee haar kans om eers kalm te word.
“Weet jy wat gebeur het?”
Sy gee 'n skewe glimlaggie. “Nee, jy weet hoe sy is, net gesê  ons moet praat.”
Hy kyk haar verwonderd aan. “Jou gedagtes hardloop omtrent draaie. Jy weet nog nie eens of daar regtig fout is nie.”
“Philip, ek het die kind grootgemaak vandat sy veertien jaar oud was. Ek is seker skrikkerig met rede.”
“Nogtans, kalmeer, en wag tot hulle kom voordat jy jouself in 'n toestand opwerk. Kom ons gaan huis toe.”
Toe hulle by die huis kom staan die kinders se kar reeds voor die deur.
Dadelik is die knop terug op Arista se maag.
Magdelie groet haar met 'n stywe drukkie. Sy dink terug aan die begin jare. Daar was maar min kontak. Hulle twee het behoorlik die liefde in-baklei.
Philip draai nie doekies om nie.
“Uit daarmee, waaroor moet ons praat?”
Magdelie trek haar wenkbroue op en kyk na Arista. Dis duidelik dat sy die nuus so bietjie wou uitrek.
“Groot nuus,” sê sy. “ ons het spesiaal vir julle kom vertel dat julle oupa en ouma gaan word.”
Arista voel-voel vir 'n stoel en sak woordeloos neer.
“Is julle dan nie bly nie? Tanna?” Sy kyk afgehaal na Arista.
Die trane spat behoorlik en Arista soek verwoed na 'n sneesdoekie.

“Bly? Ag, my liefkindjie, bly begin nie eens om te sê hoe ek voel nie!”