Friday 29 June 2012

Ai daai Denimbroek



Het jy al ooit mooi gekyk hoeveel Denims jy sien as jy in 'n groot inkopiesentrum rondloop? Sjoe...
Dis maer denims, vet denims, donker denims, ligte denims, stywe denims en pap denims. Daar is grys denims, donker bloues, ligte bloues, swart denims, grys denims en minder algemeen nog ander kleure ook.
Party het wit strepe wat jou laat dink aan boude wat deurgesit is. Of wit strepe hier voor, wat lyk soos Jik wat simmetries verkeerd gegaan het. Wat natuurlik glad nie waar is nie! Spesiaal so vervaardig, vir effek. Ander is deftig met blinkers en borduurwerk, bypassende bostuk en al.
Daar is die oorpeul denim. Die broek maak net die helfte toe en die res van die mens peul oor. Reg langs die oorpeul-denim loop die sak-denim. Die ou binne in die denim, kan nog sy buurman ook huisves. Elke soort bostuk in die heelal word saam met denims gedra.
Skoene ook, plakkies, hoƫ hak sandale, moddertrappers, en dan die rasegte duur etiket tekkies wat so handskoen mooi by die regte denim pas.
Skielik kom 'n ouerige dame met 'n broekpakkie verby. Nie 'n denim nie; ‘n mooi sagte broekpak van sagte vroulike materiaal, met 'n syerige bloesie wat pas. Soos 'n vars briese staan sy uit.
Ek het regtig niks teen denims nie, dis net so vervelig om almal met dieselfde broeke te sien. En party so slordig! Pluk hom aan en daar gaan ek. Want almal doen dit.
Die aller maklikste uitweg. Somer, winter, lente herfs, die denim doen die ding.

No comments:

Post a Comment