Friday 29 June 2012

Ai daai Denimbroek



Het jy al ooit mooi gekyk hoeveel Denims jy sien as jy in 'n groot inkopiesentrum rondloop? Sjoe...
Dis maer denims, vet denims, donker denims, ligte denims, stywe denims en pap denims. Daar is grys denims, donker bloues, ligte bloues, swart denims, grys denims en minder algemeen nog ander kleure ook.
Party het wit strepe wat jou laat dink aan boude wat deurgesit is. Of wit strepe hier voor, wat lyk soos Jik wat simmetries verkeerd gegaan het. Wat natuurlik glad nie waar is nie! Spesiaal so vervaardig, vir effek. Ander is deftig met blinkers en borduurwerk, bypassende bostuk en al.
Daar is die oorpeul denim. Die broek maak net die helfte toe en die res van die mens peul oor. Reg langs die oorpeul-denim loop die sak-denim. Die ou binne in die denim, kan nog sy buurman ook huisves. Elke soort bostuk in die heelal word saam met denims gedra.
Skoene ook, plakkies, hoë hak sandale, moddertrappers, en dan die rasegte duur etiket tekkies wat so handskoen mooi by die regte denim pas.
Skielik kom 'n ouerige dame met 'n broekpakkie verby. Nie 'n denim nie; ‘n mooi sagte broekpak van sagte vroulike materiaal, met 'n syerige bloesie wat pas. Soos 'n vars briese staan sy uit.
Ek het regtig niks teen denims nie, dis net so vervelig om almal met dieselfde broeke te sien. En party so slordig! Pluk hom aan en daar gaan ek. Want almal doen dit.
Die aller maklikste uitweg. Somer, winter, lente herfs, die denim doen die ding.

Thursday 28 June 2012

Wenk van die dag


As jy vinnig 'n platlaken in 'n paslaken moet verander, knoop die vier hoeke elkeen afsonderlik en siedaar! 'n Kits paslaken.

Wednesday 27 June 2012

Kapokkie


VLERKSLEEP
deur Salomie

Ek is,of was, bekend as iemand wat geen affiniteit vir hoenders het nie. Dit was totdat Kapokkie in ons lewe ingekom het. Ek gee beslis ook nie normaalweg vir hoenders of kapokhoenders name nie. Glo my, glad nie.
Maar die een moes 'n naam kry sodat ek op hom kon skree as dinge te erg raak. Hy reken hy is baas van die plaas. Van alles wat beweeg.
Totius en Van Gogh is die eerste dag met benoude miaau geluide die huis in. Die honde, Stoffel en Stompie, loop draaie en die neushoringvoël kom eet pap op die stoep as Kapokkie nie in die omtrek is nie. Dit is skreeusnaak om die grote Stoffel -wat hom met een hap kan opvreet - benoud te sien koes vir die geniepse skoppe en pikke.
Skaars geland toe is hy  klaar 'n groot meneer en die meneertjie besluit hy is my ridder op twee skurwe hakskene.  As ek buite loop en enige iemand waag dit naby my dan storm hy en skop of pik verwoed. Die ergste was toe hy die kar bestorm en die wiel skop dat die stof so trek.
Eintlik verskaf hy my ure se genot. Sy hart moet wees hoe 'n hart van staal lyk. 'n Leeuhart, die mannetjie. Ek gebruik hom as motivering; vertel vir die kinders dit is soos 'n mens die lewe moet aanpak. Moenie terugdeins. Dis die gesindheid wat saak maak.
Sy vroutjie loop kloekend saam en skrop-skrop fyntjies vir wurmpies en wat ook al hulle  met daardie skurwe toontjies los wikkel.
Ag mense, en toe raak hulle vryerig. Sy staan dromerig en hy loop om haar en sleep sy vlerke spoggerig in die grond langs haar dat die stof so trek. Eers dié kant toe. Dan draai hy om en sleep weer die ander vlerk net so spoggerig anderkant toe dat die korrels sand so wiplig.
As jy nog nie 'n geveerde man sien vlerksleep het nie, dan moet jy moeite doen om so iets te aanskou. Die kuns van hof maak in aksie, dit is wat dit is.
Die nasleep is eiertjies, natuurlik. Verspotte klein eiertjies as 'n mens aan hoendereiers gewoond is. Vroutjie kapokkie gaan sit kloekend om te broei en die twee mag nie uit die hok kom. Die hek word nie meer soggens oopgemaak nie. Dinge kan onveilig raak vir 'n broeiende hennetjie.
Kapokkie kraai die hele dag dat jy hom wie weet waar kan hoor. Die hele tyd kry ek hom bitter jammer oor die gevangenskap. Eindelik is die wag verby. Ma-kapokkie spog met ses klein kuikentjies. Twee swart en vier geel donsige bondeltjies trippel om haar voete.
Geen pa kan trotser wees as hierdie Kapokkie pa nie. Hy wil net help kinders grootmaak.
“Die baas van die plaas speel nou tweede viool,” sê ek al giggelend vir Manlief.
Hy kyk my vraend aan.
“Kapokkie het sy Moses teëgekom. Sy vrou is nou die baas,” vertel ek.
Wat hierdie parmantige mannetjie nie geweet het nie, is dat hy 'n baie kwaai vrou gekry het. Hy moet so mak soos 'n lammetjie eenkant toe staan. Sy pof haar op dat hy skoon klein lyk en dreig hom met allerhande hoendertaal dinge.
So beteuterd het ek Kapokkie nog nooit gesien. Saam met die glimlag moes ek hom jammer kry. Die waardige werfkoning wat nou so eenkant toe moet staan.
Donderdagnag hoor ons vir Kapokkie deur die slaapnewels kraai en lawaai sonder ophou. Die honde begin ook blaf. Manlief staan op en gryp die flits.
            “Nou het hy die hele wêreld wakker,” brom hy voor hy by die deur uit verdwyn.
            Manlief is net betyds om te sien hoe 'n rondloper hond probeer om 'n gat onderdeur die draad te grou. Kapokkie kraai nog eenstryk deur. Ma-kapokkie sit verskrik in die hoek met al die kuikens onder haar vlerk. Die honde staan en blaf verwoed, maar die rondloper skrik en verdwyn eers toe hy die mens en die lig gewaar.
Die volgende dag is dit al vir my of Ma-kapokkie so bietjie meer toegeeflik teenoor Kapokkie is. Ek kan sweer ek sien 'n vonkel in haar ogies as sy so na sy kant toe loer. 

LIEFDE IN TWINTIG TWAALF




Kom praat oor die liefde,
o moderne, hedendaagse vroue
waar selfone blikdeuntjies skreeu.
tegnologie die oorsaak van lang toue;
Maak ons nog tyd vir liefde?

Die liefde raak lui, lyk dit vir my
Ouma ruik nie meer na kaneel
Die nooientjies ruik na naellak.
dat sussie se broek afsak,
kan Ma blykbaar nie skeel.
Hoe lui kan liefde wees?

Nee wat, liefde bly liefde – dit klop
Die hart van die huis is die vrou
die hars wat haar gesin aanmekaar hou
Tuis is sy net vroulief, ouma en ma
die een wat die ratte help draai.
Die liefde klop sterk, ja, dit skop!