Monday 31 March 2014

Mooi oomblikke

Elke dag sorg vir sy eie mooi oomblikke. Soos die vier seisoene spog met unieke eienskappe. My spesiale mooi vir die dag was die vere op die kapokhaantjie en hennetjie. Die fraaiste patrone; elke veertjie afsonderlik omlyn, kunstig asof 'n kunstenaar fyntjies met 'n dun kwassie elke strepie omlyn het.
Dit laat my dink aan ons mooi land se unieke streke. Elke streek het sy eie besonderse mooi en nie een is beter of mooier as die ander nie.  Elke plek is wel op 'n ander manier mooi en uniek.
Hier by ons in die boswêreld kan dit wreed warm raak. Warm en droog. Soms so stowwerig dat selfs jou kleintongetjie na 'n rëenbuitjie smag.
 Dan maak God Sy wolkekamers oop en was alles skoon en blink. In 'n ommesientjie verander die wêreld rondom ons in 'n groen paradadys. 'n Fees van groene omring jou. Karee en Olienhout kompeteer met Witstinkhout en Soetdoring en onderlangs pryk varings en grasse in nog meer skakering van groen.

As die son ondergaan, word alles stil in my. Geen foto of skildery kan presies dit weergee wat ons hier beleef. Soos 'n wonderskone geskenk dag na dag ontvang ons hierdie sonsondergange. 'n Beeld om vas te vang en te bêre in die skatkis van ons geheue. 

Thursday 27 March 2014

DIE PLOEG

Ek klief jou sooie vlymskerp oop

die aarde bars ek kraak

sensasie diep en aards ontplof

geure uit die aarde grof 

as jy oopbars onder my

my lemme deur jou gly

tril my skare van plesier

Dit juig in tone ongekend

ek bewe soos ´n dier 

‘wyl ek jou aansig skend.

Ons weet dis tydelik, 

gewasse gaan groei

uit die wonde 

waar jy stofrooi bloei.