Sunday 12 May 2013

Moeder-moedersdag

Een keer per jaar staan ons een dag af om Moeders te vereer. 
En te midde van al die dankies en drukkies en gedeelde oomblikke van liefde is daar die seer. Die seer van onvervulde moederskap. Wanneer almal deel in die mooi en lekkerte van kind en moederskap is daar onderdrukte sugte en blink oë wat skelm afgevee word.

Hoeveel jaar kan ‘n vrou wag en hoop? Onvervuld wag en hoop. Eindelik aanvaar dat hierdie moederskoot leeg sal bly...  as al die opsies deurgeworstel is, nie een vir jou beskore was. 
Die kinderkamer steeds stil en leeg. Dan is Moedersdag nie 'n hartjie- sjokolade-dag.
Maar eendag - in die hemel – sal ons verstaan hoekom Mamma’s met hul arms leeg en harte oorvol liefde moes bly staan. 
En kinders wees, en smagtend na 'n Mamma, saans alleen bed toe moes gaan.

Friday 10 May 2013

ERFGOED


ERFGOED

Die mense wat ek liefhet
bly diep hier in my hart
soos skakels in ’n ketting
bind ’n band van bloed
ons diepste wese saam.

Herrinnering – ’n goue draad;
geen teespoed, siekte;
selfs die dood
kan ons hiervan beroof.

Van waar, menslief
en waarheen?
Van waar familie
en waarheen nou?
In liefde saam op pad.

Ons erfenis ’n goue pand.
Ons Christenskap
aan moedersknie geleer;
sien ons almal, eendag
soos vandag,
mekaar daar weer!

PROESELTJIES


 Kortverhalebundel verkrygbaar by www.afna.co.za 

'n Bundel sketse oor die alledaagse lewe. Sommige snaaks, soms hartseer. 
Ander sommer net lekker stories oor doodgewone mense.