Friday, 13 July 2012
NA-NAG / LATE NIGHT
LATE NIGHT
O quiet warm night around me. How unresponding you can be
My thoughts attack me, to merciless drag me down.
When I’m wide awake with worries that’s the boss of me
O Lord, please come wait with me, the dawn must soon appear
Teach me, in this dark world to wait for you Son so dear
Comfort me when I get overwhelmed by storms in life
Make me the lamp that lead the lost from dark to light
Die stil warm nag om my. ´n Swygsame
metgesel
Met gedagtes wat my bespring en genadeloos
neer wil fel
As die slaap my ontwyk en die kommer my
amper onderkry
Kom dan o Heer, en wag saam met met my vir
die nuwe dag om te kom.
Leer my om so in die donker wêreld te wag op
die dag wat U kom
Troos my as die stroms van wanhoop my omring
En bly só
in my dat ek U ook na ander kan bring.
Friday, 29 June 2012
Ai daai Denimbroek
Het jy al ooit mooi gekyk hoeveel
Denims jy sien as jy in 'n groot inkopiesentrum rondloop? Sjoe...
Dis maer denims, vet denims, donker
denims, ligte denims, stywe denims en pap denims. Daar is grys denims, donker bloues,
ligte bloues, swart denims, grys denims en minder algemeen nog ander kleure
ook.
Party het wit strepe wat jou laat
dink aan boude wat deurgesit is. Of wit strepe hier voor, wat lyk soos Jik wat
simmetries verkeerd gegaan het. Wat natuurlik glad nie waar is nie! Spesiaal so
vervaardig, vir effek. Ander is deftig met blinkers en borduurwerk, bypassende
bostuk en al.
Daar is die oorpeul denim. Die broek
maak net die helfte toe en die res van die mens peul oor. Reg langs die
oorpeul-denim loop die sak-denim. Die ou binne in die denim, kan nog sy buurman
ook huisves. Elke soort bostuk in die heelal word saam met denims gedra.
Skoene ook, plakkies, hoë hak sandale,
moddertrappers, en dan die rasegte duur etiket tekkies wat so handskoen mooi by
die regte denim pas.
Skielik kom 'n ouerige dame met 'n
broekpakkie verby. Nie 'n denim nie; ‘n mooi sagte broekpak van sagte vroulike
materiaal, met 'n syerige bloesie wat pas. Soos 'n vars briese staan sy uit.
Ek het regtig niks teen denims nie,
dis net so vervelig om almal met dieselfde broeke te sien. En party so slordig!
Pluk hom aan en daar gaan ek. Want almal doen dit.
Die aller maklikste uitweg. Somer,
winter, lente herfs, die denim doen die ding.
Thursday, 28 June 2012
Wenk van die dag
As jy vinnig 'n platlaken in 'n paslaken moet verander, knoop die vier
hoeke elkeen afsonderlik en siedaar! 'n Kits paslaken.
Wednesday, 27 June 2012
Kapokkie
VLERKSLEEP
deur Salomie
Ek is,of was, bekend as iemand wat
geen affiniteit vir hoenders het nie. Dit was totdat Kapokkie in ons lewe
ingekom het. Ek gee beslis ook nie normaalweg vir hoenders of kapokhoenders
name nie. Glo my, glad nie.
Maar die een
moes 'n naam kry sodat ek op
hom kon skree as dinge te erg raak. Hy reken hy is baas van die plaas. Van
alles wat beweeg.
Totius en Van
Gogh is die eerste dag met benoude miaau geluide die huis in. Die honde,
Stoffel en Stompie, loop draaie en die neushoringvoël kom eet pap op die stoep as Kapokkie nie in die omtrek is nie.
Dit is skreeusnaak om die grote Stoffel -wat hom met een hap kan opvreet - benoud
te sien koes vir die geniepse skoppe en pikke.
Skaars geland
toe is hy klaar 'n groot meneer en die meneertjie besluit hy is my ridder op twee
skurwe hakskene. As ek buite loop en
enige iemand waag dit naby my dan storm hy en skop of pik verwoed. Die ergste
was toe hy die kar bestorm en die wiel skop dat die stof so trek.
Eintlik verskaf
hy my ure se genot. Sy hart moet wees hoe 'n hart van staal lyk. 'n
Leeuhart, die mannetjie. Ek gebruik hom as motivering; vertel vir die kinders
dit is soos 'n mens die lewe
moet aanpak. Moenie terugdeins. Dis die gesindheid wat saak maak.
Sy vroutjie loop
kloekend saam en skrop-skrop fyntjies vir wurmpies en wat ook al hulle met daardie skurwe toontjies los wikkel.
Ag mense, en toe
raak hulle vryerig. Sy staan dromerig en hy loop om haar en sleep sy vlerke
spoggerig in die grond langs haar dat die stof so trek. Eers dié kant toe. Dan draai hy om en sleep
weer die ander vlerk net so spoggerig anderkant toe dat die korrels sand so wiplig.
As jy nog nie 'n geveerde man sien vlerksleep het
nie, dan moet jy moeite doen om so iets te aanskou. Die kuns van hof maak in
aksie, dit is wat dit is.
Die nasleep is
eiertjies, natuurlik. Verspotte klein eiertjies as 'n mens aan hoendereiers gewoond is. Vroutjie kapokkie gaan sit
kloekend om te broei en die twee mag nie uit die hok kom. Die hek word nie meer
soggens oopgemaak nie. Dinge kan onveilig raak vir 'n broeiende hennetjie.
Kapokkie kraai
die hele dag dat jy hom wie weet waar kan hoor. Die hele tyd kry ek hom bitter
jammer oor die gevangenskap. Eindelik is die wag verby. Ma-kapokkie spog met
ses klein kuikentjies. Twee swart en vier geel donsige bondeltjies trippel om
haar voete.
Geen pa kan
trotser wees as hierdie Kapokkie pa nie. Hy wil net help kinders grootmaak.
“Die baas van
die plaas speel nou tweede viool,” sê
ek al giggelend vir Manlief.
Hy kyk my vraend
aan.
“Kapokkie het sy
Moses teëgekom. Sy
vrou is nou die baas,” vertel ek.
Wat hierdie parmantige
mannetjie nie geweet het nie, is dat hy 'n
baie kwaai vrou gekry het. Hy moet so mak soos 'n lammetjie eenkant toe staan. Sy pof haar op dat hy skoon klein
lyk en dreig hom met allerhande hoendertaal dinge.
So beteuterd het
ek Kapokkie nog nooit gesien. Saam met die glimlag moes ek hom jammer kry. Die
waardige werfkoning wat nou so eenkant toe moet staan.
Donderdagnag
hoor ons vir Kapokkie deur die slaapnewels kraai en lawaai sonder ophou. Die
honde begin ook blaf. Manlief staan op en gryp die flits.
“Nou het hy die hele wêreld wakker,” brom hy
voor hy by die deur uit verdwyn.
Manlief is net betyds om te sien hoe
'n rondloper hond probeer om 'n gat onderdeur die draad te grou.
Kapokkie kraai nog eenstryk deur. Ma-kapokkie sit verskrik in die hoek met al
die kuikens onder haar vlerk. Die honde staan en blaf verwoed, maar die
rondloper skrik en verdwyn eers toe hy die mens en die lig gewaar.
Die volgende dag
is dit al vir my of Ma-kapokkie so bietjie meer toegeeflik teenoor Kapokkie is.
Ek kan sweer ek sien 'n vonkel
in haar ogies as sy so na sy kant toe loer.
LIEFDE IN TWINTIG TWAALF
Kom praat oor die liefde,
o moderne, hedendaagse vroue
waar selfone blikdeuntjies skreeu.
tegnologie die oorsaak van lang toue;
Maak ons nog tyd vir liefde?
Die liefde raak lui, lyk dit vir my
Ouma ruik nie meer na kaneel
Die nooientjies ruik na naellak.
dat sussie se broek afsak,
kan Ma blykbaar nie skeel.
Hoe lui kan liefde wees?
Nee wat, liefde bly liefde – dit klop
Die hart van die huis is die vrou
die hars wat haar gesin aanmekaar hou
Tuis is sy net vroulief, ouma en ma
die een wat die ratte help draai.
Die liefde klop sterk, ja, dit skop!
Friday, 27 April 2012
Vryheidsdag
So 'n vakansiedag by die huis gee n mens tyd om te dink. Terwyl jy wasgoed was of kos maak of tuinwerk doen, dink jy oor dinge. Onbeplan kom sit die gedagtes hier op jou skouer, langs jou ore, en praat allerhande praatjies.
Jy luister maar, daar is nie veel wat jy kan doen aan gedagtes wat praat nie. Dinge van gister en eergister en lank gelede kom praat met stemme so helder soos winkelwater. Mooi dingetjie en snaakse goedjies, ja. Maar ook seerkry praatjies wat jou briek. Sommer jou lus vir die Vryheidsdag se lekker kom wegvat.
Dalk ook goed so. Soms wil jou lyf bietjie rus op so bonus vakansiedaggie. Dan pak ons vroumense mos sewe dae se werk aan. Maak onsself so moeg dat ons moet rus as die langnaweek om is.
Neem nou maar die vryheid om kalm en rustig te wees, se ek toe maar vir myself en sit en ontspan. Kuier met manlief en die kinders. En kom net oor die dolle gejaag (in die jongmense se taal) die werk raak in elk geval nooit klaar nie..
Subscribe to:
Posts (Atom)