Thursday, 27 March 2014

DIE PLOEG

Ek klief jou sooie vlymskerp oop

die aarde bars ek kraak

sensasie diep en aards ontplof

geure uit die aarde grof 

as jy oopbars onder my

my lemme deur jou gly

tril my skare van plesier

Dit juig in tone ongekend

ek bewe soos ´n dier 

‘wyl ek jou aansig skend.

Ons weet dis tydelik, 

gewasse gaan groei

uit die wonde 

waar jy stofrooi bloei.



Sunday, 12 May 2013

Moeder-moedersdag

Een keer per jaar staan ons een dag af om Moeders te vereer. 
En te midde van al die dankies en drukkies en gedeelde oomblikke van liefde is daar die seer. Die seer van onvervulde moederskap. Wanneer almal deel in die mooi en lekkerte van kind en moederskap is daar onderdrukte sugte en blink oë wat skelm afgevee word.

Hoeveel jaar kan ‘n vrou wag en hoop? Onvervuld wag en hoop. Eindelik aanvaar dat hierdie moederskoot leeg sal bly...  as al die opsies deurgeworstel is, nie een vir jou beskore was. 
Die kinderkamer steeds stil en leeg. Dan is Moedersdag nie 'n hartjie- sjokolade-dag.
Maar eendag - in die hemel – sal ons verstaan hoekom Mamma’s met hul arms leeg en harte oorvol liefde moes bly staan. 
En kinders wees, en smagtend na 'n Mamma, saans alleen bed toe moes gaan.

Friday, 10 May 2013

ERFGOED


ERFGOED

Die mense wat ek liefhet
bly diep hier in my hart
soos skakels in ’n ketting
bind ’n band van bloed
ons diepste wese saam.

Herrinnering – ’n goue draad;
geen teespoed, siekte;
selfs die dood
kan ons hiervan beroof.

Van waar, menslief
en waarheen?
Van waar familie
en waarheen nou?
In liefde saam op pad.

Ons erfenis ’n goue pand.
Ons Christenskap
aan moedersknie geleer;
sien ons almal, eendag
soos vandag,
mekaar daar weer!

PROESELTJIES


 Kortverhalebundel verkrygbaar by www.afna.co.za 

'n Bundel sketse oor die alledaagse lewe. Sommige snaaks, soms hartseer. 
Ander sommer net lekker stories oor doodgewone mense.


Saturday, 1 December 2012

My loflied van dank vir vandag.


Die Bosveld is toegemaak onder ‘n wolkekombers. Dit reën sag en aanhoudend en elke nou en dan sak daar so lekker harde bui uit. Die bome se blare, die gras, selfs die modder blink. Net soos die mense wat met dowwe oë geloop het, se oë ook nou van blydskap blink.

Ek sê ook dankie vir 'n Lenmarie wat in my lewe gekom het en my verseker het dit is ‘fine’ om na drie jaar nog te rou. Om nie oukei te wees al probeer jy ook hoe hard.
En baie dankie dat my kind so wonderlike baas het. Die Here seën in oorvloed!

Tuesday, 27 November 2012

Vandag se dankie-porsie

Elke dag het genoeg aan sorge, maar..
daar is so baie om voor dankie te sê!
Vanoggend het die voëls my wakker gejubel
Die natuur juig oor die reën wat geval het.
Ek sê dankie, dankie Heer.

Sunday, 28 October 2012

Die Ploeg






Ek klief jou sooie vlymskerp oop

Die aarde bars ek kraak

En sensasie diep en aards ontplof

Geure uit die aarde grof

As jy oopbars hier onder my

my lemme deur jou gly

tril my skare van plesier

Dit juig in tone ongekend

Ek bewe soos ´n dier

‘wyl ek jou aansig skend.

Ons weet dis tydelik,

Gewasse gaan groei

uit die wonde

waar jy stofrooi bloei.